Op ‘n eiland

Raavi se ma het haar werk as huisbediende verlaat toe Raavi aan die begin van die jaar vir die eerste keer skool toe moes gaan. Sy pa, ‘n ambagsman, sou voortaan moes sorg vir die kos op die tafel. Raavi is ‘n 7 jarige seuntjie met helder groot ogies en ‘n vriendelike glimlag. Hy is die oudste kind in sy gesin. Sy een boetie is nou 5 jaar oud en hulle ooreenstemmende gelaatstrekke is opvallend. Dan is daar ook die 2 jarige kleinboet, wat elke nou en dan soek na sy ma se bors. Elke oggend 7vm val Raavi se ma met die drie seuns in die pad, sodat hulle net voor 8vm vir Raavi by sy skooi kan afsien. Die eerste skool, waar hy graad l begin het, was nader aan die huis. Volgens sy ma het hy aanvanklik goed aangepas in die klas en skool, maar gedurende die laaste maand van die tweede kwartaal het Raavi soggens gehuil wanneer hy moes skool toe gaan. Sy ma kon sien dat hy baie ongelukkig is in die skool. Hy het probleme ondervind om by te hou met skoolwerk, aihoewel sy ma in die middae met hom vasleggingsoefeninge sou doen en help met huiswerk. Dit het my gou opgeval dat Raavi verbale kommunikasie in meeste situasies onmoontlik vind. Hy het oogkontak vermy en dit het voorgekom asof hy soms op ‘n eiland is, onbewus van wat rondom hom aangaan. Soms sou hy enkele woorde agter sy ma aansê. In die speelkamer by die TC Newman Daghospitaal (Paarl) het hy eers lank na die stukkies van ‘n eenvoudige legkaart gekyk. Hy het geen poging aangewend om self met die stukkies te eksploreer nie. Eers nadat ek aan hom demonstreer het hoe hy die 5 legkaart-stukkies volgens hulle groottes in die regte spasies kan terugpak, het hy my voorbeeld gevolg. Raavi het ook net na die tweede en derde legkaart gesit en kyk, ten spyte van verbale aanmoediging en verduidelikings van wat hy moes doen. Hy het elke keer eers na ‘n demonstrasie belangstelling getoon in die aktiwiteit Ek het vir Raavi ‘n afspraak by ‘n spraakterapeut gereel. Sy was van mening dat ‘n kind wat op 7 jarige ouderdom uiters beperkte taal-ontwikkeling toon, se progonose sleg lyk. Sy het ook ‘n basiese gehoorstoets afgeneem, maar Raavi was nie instaat om aan te dui of hy ‘n “bieb” geluid hoor of nie. Hy het in haar kantoor gesit met die oorfone op sy kop en net by die venster uitgekyk na die aktiwiteite in die straat en parkeerterrein onder die venster. Selfs haar demonstrasie en oefening dat hy sy handjie moes oplig wanneer hy die klank hoor, was onsuksesvol. Toe ek later aan hom vra om te wys waar my motor geparkeer staan, het hy beduie na die parkeerterrein. Daar was dus aanduidings dat Raavi wel oor gehoor beskik, maar moontlik beperkte begrip en kommunikasie-vaardighede ontwikkel het. Raavi se ma het vertel dat hy by die huis gelukkig op sy eie speel, en gewoonlik onder haar oog bly. Wanneer hy iets wil hê sal hy beduie of ‘n woord sê wat ‘n aanduiding gee van sy behoefte. Raavi se ma het die eerste keer bekommerd geraak oor sy ontwikkeling toe sy besef dat sy jonger boetie van 5 jarige ouderdom vinniger vordering toon. Dit het haar ook gepla dat Raavi so stil was, maar hy het gelukkig gelyk. Ook tydens sy besoeke aan die dokter het niemand bekommernis oor sy algemene ontwikkeling uitgespreek nie. Ek het die OBOS (Onderwys Bestuur en Ondersteuning Sentrum) se sielkundige vir Raavi se skool gekontak en vasgestel dat hulle bewus was van sy stadige vordering en ontwikkelingsagterstande, asook gebrekkige kommunikasievermoe. In samewerking met die OBOS sielkundige kon ‘n afspraak en plasing by Paarl Stimulasie Sentrum vir Paavi gereel word. By die Paarl Stimulasie Sentrum word voorsiening gemaak vir Raavi se spesifieke ontwikkelings behoeftes. Die kanse is dus groter dat hy “skool” op n positiewe manier sal beleef, beter sal vorder en ontwikkeling sal plaasvind. Verskillende vorms van alternatiewe kommunikasie kan ook aan Raavi geleer word. Die Paarl Stimulasie Sentrum het ook ‘n busdiens wat kinders soggens oplaai en in die middae weer terugbesorg by die huis, ‘n groot bron van hulp en ondersteuning aan Raavi se ma. Raavi se inskakeling en vordering by die Paarl Stimulasie Sentrum sal deur my op ‘n kwartaallikse basis gemonitor word. Sy ouers is ook bewus daarvan dat hulle ons Sielkundige Diens kan kontak indien verdere ondersteuning benodig word.