Ondersteun vir Goeie Hoop Sielkundige Diens finansieël

Ek kan glad nie sielkundige dienste privaat bekostig nie. Ek is broodwinner en verdien nie genoeg om vir ‘n privaat sielkundige diens te betaal nie. Ek is verskriklik dankbaar vir die diens wat aan my en my kind gelewer is. Ek smeek almal om hierdie diens finansieel te ondersteun want sonder hierdie diens is ons verlore. Moenie ons weghou van die geleentheid nie. Ons het dit bitter nodig in vandag se lewe. Ek dank God vir die werk wat my terapeut doen. Sy is so toegewyd aan haar kliente. Sy offer so baie op en doen ekstra moeite. My terapeut het my kind se lewensverwagtinge die lig laat sien. My kind sien met elke besoek uit om u te sien. Hy vra ook soms wanneer hy kan gaan. Dankie liewe terapeut. Wys vir mense hierdie brief sodat hulle julle diens kan ondersteun. Ek moes toekyk hoe my kind koelbloedig doodgesteek word Geagte leser met hierdie briefie wil ek u net inlig watter trauma ek beleef het. Ek moes toekyk hoe my buurman se seun my kind koelbloedig doodsteek. Hy het hom eers uitgenooi vir ‘n Fair Fight en toe my seun reageer op sy uitdaging, het hy skielik die mes uit sy sak gepluk en hom een hou in die nek gesteek, waarna my kind beswyk het. As kind van God sukkel ek en het ek baie vrae waarvoor ek weet net God die antwoord het. Ek het pyne in my nek en my arms ervaar. My kop het gedurig gepyn en ek was baie meer emosioneel. Ek het kliniek toe gegaan waarna hulle my na die sielkundige verwys het waarvoor ek baie dankbaar is. Toe ek my sessies begin het, was ek nog baie tranerig, daar was baie woede. Ek wil vandag met alle eerlikheid sê daar het verandering gekom. Die feit dat iemand na jou luister, begrip het waardeur jy gaan, nie net luister nie, maar ook notas maak van wat die klient sê. Die ontspanningsessie wat jou leer om jou aandag bietjie weg te neem van jou huidige situasie was tot groot hulp vir my. Die feit dat daar in jou hele familie belanggestel word, is regtig ‘n mooi gebaar. Daar is nog baie wat ek kan sê, maar ek wil sê: Hou aan met die goeie werk. God seën en baie, baie dankie. Ek wil byvoeg by my eerste brief. Toe ek verwys word na die sielkundige was ek ‘n bietjie huiwerig om te kom, want ek het gedog mense gaan my nou as ‘mal’ beskou. Maar met ‘n bietjie aanmoediging van vriende is ek bly ek het gekom. Toe ek my eerste sessie bywoon, was ek baie verbitterd. Ek was kwaad en daar was baie verwyte. Ek het myself verwyt en ek het my man blameer. As ek na jongmense gekyk het, en hoe hulle hulself geniet, het ek baie hartseer gevoel. Dit wat God toegelaat het, was nie reg nie. Maar vandag, na 4 of 5 sessies, kan ek sê ek hanteer my omstandighede baie beter. Die omstandighede het nie verander nie, maar ek het geleer God kan nie vir alles blameer word nie. Ek het geleer om weer die lewe met al sy uitdagings in die oë te kyk. Ek het geleer om weer te kan lag en om visie te hê, en te weet dat ek ‘n trotse vrou is wat tot alles in staat is deur Christus wat my die krag gee. Ek is nie meer verbitterd nie. Daar is nie meer woede nie, en ek verwyt myself en my man nie meer nie. Ek probeer om elke dag te geniet.