Life after rape

Die afgelope 28 jaar van my lewe was nie maanskyn en rose nie. Om die waarheid te sê, ek het ‘n pynvolle leeftyd agter die rug. Die nagmerrie het begin toe ek ses jaar oud was. Ek is verkrag. Dit was bitter moeilik, maar ek moes dit vat soos dit kom. Daarna wou ek nie meer met seuns speel nie, want ek was bang vir seuns en mans. Tog met die bystand van my ouers en onderwysers kon ek my skoolloopbaan suksesvol voltooi. Ten spyte van die trauma van vroeër was ek lus vir die lewe en het ek aan byna al die aktiwiteite by die skool deelgeneem. Dit was ‘n groot dag toe ek in 1997 gematrikuleer het. In 2000 is ek egter weer verkrag. Dié keer deur ‘n groep mans wat hulle as speurders voorgedoen het en wat my ‘n paar dae lank dopgehou het. Skielik het dit gevoel asof my lewe niks werd meer was nie. Ek het gedink aan selfmoord, maar het gewonder wat met my klein seuntjie sou gebeur as ek nie meer daar was nie. Tog was daar altyd iemand wat my moed ingepraat het. En vandag gebeur dit nog steeds. Daar is altyd ‘n stemmetjie wat al die goeie dinge in my oor fluister. Ek is vandag bly dat ek nog leef om te kan sien hoe my twee seuns grootword. Deur die jare heen, omdat ek bang was ek praat met die verkeerde mense, het ek dinge wat my gepla het vir myself gehou en by die huis probeer wegkruip. Nooit het ek besef dat stres soos ‘n dodelike monster kan wees nie totdat ek in die hospitaal beland het en simptome van Post Traumatiese Stres Sindroom by my gediagnoseer is. Vandat ek verkrag is, het ek altyd vreemde mans aangekyk asof hulle my verkragters was. Ek het in vrees geleef. Ek was altyd bang as ek motors hoor ry en as ‘n vreemde motor naby my stilgehou het, het ek altyd in ‘n ander rigting geloop. Ek het gereeld nagmerries gehad. By die hospitaal het die dokter voorgestel dat ek iemand by Sielkundige Dienste by die Stellenbosch Hospitaal gaan sien. Van toe af was dit asof ek ‘n ander mens geword het. Ek het my hart uitgepraat en die berader daar het my gehelp om my probleme te verwerk. Ek het ook by die huis en werk bystand gekry. As ek terugdink aan alles wat gebeur het, dink ek nie dat ek die mens sou wees wat ek vandag is sonder die berader se hulp nie. Week na week het sy my gehelp hoe om op ‘n ander manier na my probleme te kyk, hoe om dit te hanteer en hoe om self my probleme uit te sorteer. Ek wil mense in ons gemeenskap wat sukkel met depressie en stres aanmoedig om hulp te gaan soek vir hulle probleme. Jy hoef nie jou hele probleem te verduidelik nie. Jy moet net begin praat. Ek is so dankbaar dat my man vir my deur al my moeilikhede bygestaan het. Deur die hele verkragtingstorie en my emosionele probleme daarna het hy lojaal en getrou aan my, sy vrou, gebly Vandag, as ek die geleentheid kon kry, sou ek graag ander wou help wat verkrag is, veral kinders. Ek wil mense aanmoedig om nie hulle medemens te verstoot as hulle deur die trauma van verkragting gaan nie. Luister na mekaar se probleme, moenie mekaar oordeel nie, ondersteun mekaar en moedig mekaar aan om professionele sielkundige hulp te kry indien nodig.