Kinders wat seksueel misbruik is

Susan (SKUULNAAM)  woon saam met haar ma en jonger boetie in Wellington.  Haar pa het hulle ‘n paar jaar gelede verlaat en dra nie by tot hulle versorging nie, inteendeel hy ontken hulle bestaan. Verlede jaar toe Susan 16 jaar oud was, het haar beste vriend, wat sy ken sedert Gr R , en sy  vriend haar geroep om iets in hulle hokkie te kom kyk. Sy het gegaan aangesien sy hulle al so lank ken en gereeld saam met hulle gesit en gesels en musiek luister het. Die hokkie is op Susan se vriend se ouma se erf.  Die oomblik toe sy egter binne was, het haar twee vriende haar egter oorval . Hulle het haar hande vasgemaak met ‘n tou en begin om haar onderklere af te skeur.  Susan het vreeslik terug baklei en daarin geslaag om los te kom. Hulle het ook die deur gesluit en sy kon dus nie uit nie.  Sy het dus die deur ook begin afskop.  Sy het daarin geslaag om weg te kom. Susan het 6 maande na die voorval vir die eerste keer na my toe gekom.  Op daardie stadium het sy het saam met haar ma in haar ma se bed geslaap en soms die bed natgemaak in die aand.  Sy het nagmerries gehad en haar punte het vreeslik verswak op skool. Aan die begin was sy onwillig om te kom, maar mettertyd het sy dit vreeslik geniet om na haar sessies toe te kom. Nadat sy omtrent ‘n jaar na my toe gekom het , het sy eendag na haar vriendin toe gegaan om by haar te gaan kuier.  Vriende van haar vriendin se pa het daar aangekom en onder hulle was haar biologiese pa.  Sy het hom gegroet en die ander mans het aan hom gevra of dit sy dogter is , aangesien hulle nie geweet het dat hy kinders het nie.  Hy het voor haar ontken dat sy sy dogter is.  Susan het voor al die mense aan haar pa gese dat, hy haar bestaan mag ontken, maar dat sy wel bestaan en ‘n mens is wat die reg het om liefgehe te word.  Sy het verder aan hom gese dat hy haar nie meer seermaak deur sy optrede nie, en dat indien hy eendag mans genoeg is om haar en haar gesin om verskoning te vra vir sy optrede , sy hom sal vergewe. Sy het my die volgende week hiervan vertel en gese dat sy dit nooit in die verlede sou doen nie. Vlgs haar het die terapie haar geleer dat sy uniek en spesiaal is.  Sy weet ook nou dat sy waarde het en dat niemand die reg het om haar te misbruik of haar seer te maak nie. Sy het ook ‘n brief geskryf wat sy aan ander kinders  wat seksueel misbruik is, wou gee sodat hulle kon sien dat mens wel deur dit kan kom en sterker kan wees as vantevore. Twee weke na die voorval het Susan se pa na hulle gegaan en haar om verskoning gaan vra vir sy optrede.  Hy kuier nog nie by hulle nie, maar groet hulle nou as hy hulle sien.