Alcohol abuse. Domestic violence

My naam is Louise* en ek is veertig jaar oud. Ek het drie kinders en woon in Cloetesville, Stellenbosch. Ek was vir 20 jaar lank ‘n alkoholis. In hierdie tyd het ek baie dinge gedoen waaroor ek vandag spyt is. Ek was nie ‘n ma vir my kinders nie. Ek was lank betrokke by ‘n verhouding wat my fisies en emosioneel afgetakel het. Toe ek dronk was, is ek dikwels seksueel misbruik en die slegte herinnneringe hieraan spook vandag nog by my.

In September het ek in die noodeenheid van die Stellenbosch Hospitaal beland. Ek het ‘n ernstige stresaanval of senuwee-ineenstorting gehad. My lewe was buite beheer. My huislike omstandighede was so sleg dat ek nie kon teruggaan huistoe nie. Ek was vir die twee weke wat ek by die hospitaal was in ‘n donker gat en wou nie meer leef nie.

In hierdie tyd het ek baie gelê en dink aan my kinders en gewonder wie na hulle sou omsien. My swaer het toe eendag vir my kom vra of ek nie my lewe wil verander en die Here wil aanneem nie. Nadat ons gepraat het, het ek saam met hom gebid, maar my gemoed het swaar en donker gebly.

Ek is swaarmoedig terug huistoe waar ek alleen die stryd teen my eks en die pa van my jongste kind moes voortsit om eienaarskap van my huis te behou. Vir ‘n jaar lank moes ek by tye in die hof verskyn oor die interdik wat ek teen hom laat uitreik het.

Ek het egter intussen ‘n berader by die Polisie gaan sien, na die Cloetesville Kliniek gegaan vir my depressie, by ‘n kerk aangesluit en afsprake begin maak by Goeie Hoop Sielkundige Dienste. Ek het ook boeke begin lees oor ander mense wie se lewens verander het toe hulle deur God aangeraak is.

Geleidelik het dinge begin beter raak. In Junie, die volgende jaar, het ek ‘n werk gekry as kinderoppasser nadat ek nege maande lank werkloos was. My seun wat ‘n Rasta is en op straat gebly het, het teruggekom huistoe. My huis het ook ‘n toevlug geword vir vyf verwaarloosde kinders wie se ma’s alkoholiste is. Ek het myself begin mooimaak en weer trots geraak op my huis en hoe dit van binne lyk. Ek het bande met ou drinkersvriende verbreek – wat eintlik net mooiweersvriende was – en nuwe vriende gemaak wat my nou elke dag ondersteun en saam met my bid.

My gesindheid het ook baie verander. Voorheen het ek maklik kwaad geraak en baklei. Nou probeer ek probleme uitpraat, veral met my kinders sodat ons mekaar beter kan verstaan. My kinders is so opgewonde dat ek nie meer drink nie – veral my jongste wat nege jaar oud is.

Dit het my verskriklik baie gehelp om ‘n berader by Goeie Hoop Sielkundige Dienste te kon sien. Ek het my hart uitgepraat. Dit was soos ‘n groot las wat van my skouers afgeval het. Na elke sessie het ek ‘n bietjie beter gevoel en was ek bemoedig en meer hoopvol. In die proses het ek geleer om oor my probleme te praat met mense wie ek vertrou. As ek sukkel, bid ek en vra vir God om my te help. Voorheen het ek altyd al die slegte dinge vir myself gehou en gedrink om te vergeet van my sorge.

Ek is nou presies ‘n jaar lank so te sê ‘n nuwe mens. In die toekoms wil ek my oë op God hou en wil ek nooit weer my toevlug tot drank neem nie. Ek wil so graag ‘n goeie ma vir my kinders bly. My betrokkenheid by kinders wat my nodig het, gee vandag vir my die meeste plesier.