Heidi de Klerk (geskryf deur Joshua Carstens)

Raakvatter staar haar nie blind teen uitdagings “Hoeveel moet ek nog doen voordat mense kan sien ek is waardig is.”

As sewejarige meisietjie het sy geweet as sy eendag “groot” is, gaan sy universiteit toe. Vandag, op 25-jarige ouderdom het sy ’n meestersgraad en help verskeie mense in haar werk as sielkundige by die Goeie Hoop Sielkundige Dienste by Stellenbosch-hospitaal. En sy is blind. Heidi de Klerk beskryf haarself immers as iemand wat die lewe “raakvat”. Sy het in 2009 haar meestersgraad in voorligtingsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal en is tans besig met haar doktorsgraad oor die ervaring van blinde studente op universiteit. “Ek stel belang in die uniekheid van mense. Die eerste keer toe ek as sielkundige ’n kliënt gesien het, het ek geweet dit is waar ek wil wees. En ek was nooit spyt daaroor nie. Nie een dag nie.”

Hoewel sy gelukkig is in haar beroep wou sy aanvanklik ’n fisioterapeut word. “Hulle (die US se fakulteit gesondheidswetenskappe) het gesê hulle nie reg vir mense met gestremdhede nie. Ek het daarvoor geveg totdat ek nie meer lus was nie,” sê sy met vasberadenheid. In haar werk lê die welstand van kinders haar na aan die hart. “Wat my hartseer, moedeloos en kwaad maak, is gevalle waar kinders ’n onreg aangedoen word. Die kind kan niks doen aan die situasie nie en dis baie onregverdig.” Haar grootste frustrasie as sielkundige is kliënte wat nie opdaag vir sessies nie en dat sy nie haar kliënte se liggaamshouding kan interpreteer nie. “Ek voel egter dat ek ’n verskil maak in my werk. As ek sien hoe mense se lewens verander, weet ek doen iets reg,” sê sy en glimlag skalks. Haar werk eis soms ’n emosionele tol en dan ontspan sy deur “ligsinnige” boeke te lees. “Die goed wat jy elke dag sien is klaar swaar genoeg. Jy het nie nog nodig om jouself met nóg swaar goed te oorlaai nie. ’n Mens kan nie toelaat dat dit jou lewe oorneem nie. Daardie onderskeid is baie belangrik.” Heidi meen haar gestremdheid het van haar ’n sterker mens en ’n beter sielkundige gemaak. “Dit het my meer empaties gemaak. Ek weet nie hoe ek sou wees as ek nie blind was nie. ’n Mens leer ander vaardighede aan. “Jy hoef as sielkundige nie noodwendig deur dieselfde ding te gaan as iemand anders om te verstaan nie, maar die feit dat ek self deur goed gegaan het, speel tog ’n rol daarin om jou ander se swaarkry in te dink.”

Sy is op ses maande met kanker in haar oë gediagnoseer en het stelselmatig begin blind word. Op tien jaar het sy finaal haar sig verloor. “Dit was aan die begin moeilik en was ’n groot skok. Maar ek is eerlikwaar bly ek kon ’n bietjie sien. As iemand nou van byvoorbeeld ligblou praat, dan het ek darem ’n prentjie in my kop,” sê sy. Sy sê haar gestremdheid neem nie haar lewe oor nie en sy “vergeet” soms sy is blind. “Jy besef dit nie altyd nie, maar as jy met ander mense praat, kom jy dit agter. Jy dink nie daaroor dat jy ’n boek moet inskandeer sodat jy kan swot nie. Goed is soos wat dit is. “As ek nie ’n ma gehad het wat gevoel het sy gaan my nie oppiep nie, sou ek miskien nie gaan studeer het nie. Sy het my net soos my susters behandel.”

Dit frustreer haar as mense haar as gestremde mens anders behandel. “Dit maak my kwaad as mense anders is teenoor my. Dit is aaklig as iemand maak asof jy ’n kind is. Hoe ver moet ’n mens nog kom voordat iemand kan sien ek is waardig? Wat moet ek nog doen sodat mense nie dink ek is minder as hulle of benodig konstant hulp nie?”

Sy meen sy mis partykeer uit op goed soos mini-gholf wat sy graag sou wou speel. “Dit is die realiteit en dis nie aangenaam nie. Ek moet byvoorbeeld altyd vir iemand vra om saam met my klere te gaan koop en dit sou lekker wees om self te kan kies.” Heidi sê sy gebruik ’n loopstok om oor die weg te kom en haar vriende ondersteun haar baie. “Aanvanklik was dit maar moeilik met die stok, maar dis verbasend hoe vinnig ’n mens daaraan gewoond raak.”

Dink sy die samelewing is meer akkommoderend teenoor mense met gestremdhede? “Absoluut, maar dit is ’n voortdurende opvoedingsproses. Dit is nog nie heeltemal daar nie. Jy sal altyd stereotipes hê. Ek het self goeie ervarings, maar van die stories wat ek hoor … daar is baie wat nog gedoen kan word.”

Haar raad aan ander mense wat sukses in die lewe wil behaal, is om altyd die einddoel in gedagte te hou. “As jy iets in die lewe wil bereik, moet jy ’n visie daarvoor hê. Go for it. Hou net die realistiese uitdagings voor oë. Ek sê nie jy moet heeltyd positief wees nie, maar jy moet visie hê. Die ondersteuning van ander mense is ook baie belangrik.” Self kry sy ondersteuning van haar man, Hanro. Hulle is in 2009 getroud. “Dit klink soos ’n cliché, maar Hanro is die mens by wie ek myself kan wees. Dit is die belangrikste verhouding in my lewe.”

Hanro is swaksiende, maar kan baie aktiwiteite self doen. “Ek is egter versigtig om nie te veel op hom staat te maak nie en is gedurig daarvan bewus. “Dis vir my moeilik om hulp te vra, maar ek werk al vir jare daaraan. Almal vra op ’n kol vir hulp. Jy moenie skaam wees om vir hulp te vra nie. Ek moet net oor myself kom,” skerts sy. Sy sê sy is vervuld, maar sal na haar doktorsgraad graag ’n dosent wil word. “Dit is ’n baie groot droom, maar ek is nou hier waar ek so lank wou wees.”